Chileense nasionale rugbyspan
Chili | ||||
![]() | ||||
Unie | Chileense Rugbyfederasie | |||
Bynaam(e) | Los Condores | |||
Embleem | die Andeskondor | |||
Stadion | Estadio Municipal de La Pintana, Santiago de Chile 07 | |||
Kapasiteit | 5 000 | |||
President | Francisco Davanzo Pumarino | |||
Afrigter(s) | ![]() | |||
Kaptein(s) | Benjamín Soto | |||
![]() ![]() ![]() ![]() ![]() ![]() ![]() ![]() Spankleure
|
![]() ![]() ![]() ![]() ![]() ![]() ![]() ![]() Alt. kleure
| |||
Statistiek
| ||||
---|---|---|---|---|
Meeste toetse | Benjamin Soto Madrigal (39)[1] | |||
Meeste toetspunte | Tomas Ianiszewski Vergara (130)[2] | |||
Meeste drieë | Jose Ignacio Larenas Hitschfeld (10)[3] | |||
Eerste internasionale wedstryd | ||||
![]() ![]() (Valparaíso, Chili; 18 September 1936) | ||||
Grootste oorwinning | ||||
![]() ![]() (Montevideo, Uruguay; 3 Mei 2003) | ||||
Grootste nederlaag | ||||
![]() ![]() (4 Junie 2016) | ||||
Amptelike webwerf | ||||
www.chilerugby.org |
Die Chileense nasionale rugbyspan is ’n sportspan wat Chili in internasionale rugby verteenwoordig. Die span wat in rooi truie en blou broeke speel, dra die bynaam Los Cóndores (Spaans vir: "die Andeskondors").
Rugby word in Chili deur die Chileense Rugbyfederasie (CRF, van Spaans: Federación de Rugby de Chile) geadministreer. Die Chileense rugbyspan is tans (29 Desember 2019) 29ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys[4] en is tans die sesde beste rugbyspan in die Amerikas, na sy buurland Argentinië en die Verenigde State, Uruguay, Kanada en Brasilië.
Chili het in 1936 sy internasionale rugbydebuut teen Argentinië in Santiago de Chile gemaak en sodoende die tweede Suid-Amerikaanse land geword om internasionale rugby te begin speel. Chili was in 1989, saam met Argentinië, Brasilië, Paraguay en Uruguay, een van CONSUR, nou bekend as Sudamérica Rugby, se stigterslede. Chili het sedert 1951 aan die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap deelgeneem en was gewoonlik die tweede of derde beste span in Suid-Amerika. In 2016 het Chili saam met Argentinië, Brasilië, Kanada, die VSA en Uruguay die Amerikaanse Rugbykampioenskap, ten einde van ’n beter standaard van rugby in die Amerikas, opgerig. Chili kon tot dusver nog nie vir die Rugbywêreldbeker kwalifiseer nie.
Die sport beskik oor ’n historiese verbintenis met die Skotse gemeenskap in dié land. In 2012 is twee Skots-gebore spelers, Donald en Ian Campbell, in die Internasionale Rugbyheldesaal opgeneem.
Geskiedenis
Vroeë geskiedenis (1890’s–1959)

Nes in ander Suid-Amerikaanse lande is rugby aan die einde van die laat 19de eeu deur Britse immigrante na Chileense hawestede gebring.[5] Die eerste bekende rugbywedstryde op Chileense bodem was in 1894 deur Britse immigrante in Santiago de Chile, Iquique en Valparaíso gespeel. Tot in die 1930’s is rugby in Chili veral deur afstammelinge van die Britse immigrante gespeel.[6] In 1935 is die Chileense Rugbyfederasie gestig.
Chili se eerste internasionale wedstryd was in September 1936 teen Argentinië, toe ’n twee-toetsreeks in die hoofstad Santiago de Chile gespeel is. Chili het albei wedstryde met tellings van 0 teen 20 en 3 teen 31 onderskeidelik verloor. Chili het toe in 1938 in Argentinië teen die Poemas gespeel, maar dié wedstryd met 3–33 verloor. Chili se volgende internasionale wedstryd was teen Uruguay in 1948, wat die Andeskondors met 21–3 in Buenos Aires kon wen.
Die Chileense span kon in die 1950’s meer konsekwent meeding. In 1951 het Chili aan die eerste Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap teen Brasilië, Uruguay en Argentinië deelgeneem; Chili het derde geëindig, nadat hulle Brasilië met ’n telling van 68–0 kon klop, maar teen beide Uruguay en Argentinië verloor het. In 1952 het Chili Ierland in Santiago de Chile gehuisves, maar met 30–0 verloor. Chili het in 1954 teen ’n ander Vyfnasies-span, Frankryk, te staan gekom, maar is 34–3 geklop. In 1958 het Chili aan die tweede Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap deelgeneem en tweede geëindig, nadat hulle beide Peru en Uruguay kon klop, maar deur Argentinië verslaan is.
1960’s–1980’s
In die 1960’s kon Chili homself as ’n medium-mededinger in Suid-Amerika vestig. Chili kon spanne soos Brasilië en Uruguay herhaaldelik klop, maar was nie in staat om die sterk Poemas te oorwin nie. In 1966 het Chili die Springbokke vir hul eerste toets teen ’n SANZAR-span gehuisves, maar is met 72–0 verslaan. Gedurende die 1970’s het Chili nie wedstryde teen nie-Suid-Amerikaanse spanne gespeel nie; Chili het tydens dié dekade meestal as tweede of derde span in Suid-Amerika geëindig, nadat hulle gewoonlik Brasilië en die opkomende Paraguay kon klop, en met Uruguay om die tweede plek gewedywer het. Gedurende die 1980’s het die voormalige Franse afrigter Jean-Pierre Juanchich die leisels van Chileense rugby oorgeneem en dié span na ’n beter vertoning geneem. In 1989 is ’n nuwe beheerliggaam vir rugby in Suid-Amerika, CONSUR, opgerig.
1990’s–2000’s

In 1991 het Chili amptelik by die Internasionale Rugbyraad aangesluit, waarvolgens dié land formeel aan Rugbywêreldbekerkwalifiserings kon deelneem. In 1993 het Chili aan sy eerste Rugbywêreldbekerkwalifisering vir die Rugbywêreldbeker 1995 deelgeneem; Chili het egter al sy wedstryde teen Argentinië, Paraguay en Uruguay verloor en laaste in hul groep geëindig. In 1995 het Chili teen Spanje gespeel en met 28–23 gewen.
Die Rugbywêreldbeker 1999-kwalifisering was meer suksesvol. Chili kon die groep met Bermuda en Trinidad en Tobago maklik wen. Hulle is egter 14–20 deur Uruguay verslaan en het dus die uitspeelwedstryd misgeloop, waardeur hulle nie meer vir die toernooi in Suid-Afrika kon kwalifiseer nie.
In 2000 was Chili met twee punte naby om Argentinië te verslaan. Dié beter vertoning is in die vroeë 2000’s voortgesit, en Chili kon maklik met Brasilië tydens die Rugbywêreldbeker 2003-kwalifisering afreken. In die laaste rondte, bestaande uit Kanada, Uruguay en die VSA, kon Chili sy eerste tuiswedstryd teen Uruguay wen, maar hulle is in die volgende twee wedstryde deur die VSA en Kanada verslaan. Later kon Chili die VSA egter verras en die Arende met 21–13 in Santiago de Chile verslaan. Ondanks hul beter vertoning het Chili die twee volgende wedstryde verloor en hul veldtog met twee oorwinnings en vier nederlae beëindig. Weens minder gedrukte drieë het Chili laaste geëindig en die uitspeelwedstryd weer net-net misgeloop.
Die Rugbywêreldbeker 2007-kwalifisering het op ’n soortgelyke manier verloop, nadat Chili in die eerste rondte beide Paraguay en Brasilië kon verslaan, maar in die tweede rondte teen Argentinië en Uruguay verloor het. Chili het dus weer die uitspeelwedstryd net-net misgeloop.
2010–hede
Die Rugbywêreldbeker 2011-kwalifisering was van ’n kort duur, nadat Chili in rondte 3A van die nuwe formaat geloot is. Chili kon weer Brasilië verslaan, maar is deur Uruguay geklop, waardeur Chili die uitspeelwedstryd weereens misgeloop het.
In 2010 kon Chili die nuwe dekade amper met ’n verassing afskop, nadat hulle op die punt was om die eilandstaat Tonga te verslaan, maar hulle verloor met 32–30. Die volgende jaar kon Chili Uruguay vir die eerste keer in nege jaar met 21–18 verslaan, en eindig tweede in die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap.
Die dekade is deur onbestendige resultate gekenmerk. In 2013 het Chili die Rugbywêreldbeker 2015-kwalifisering met ’n oorwinning oor Brasilië afgeskop, maar weereens teen Uruguay verloor, met dieselfde uitkoms as by al die vorige veldtogte sedert 1999. In 2014 het Chili sy laagtepunt beleef: tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap in 2014 het hulle laaste geëindig, nadat hulle vir die eerste keer deur Brasilië verslaan is.[verwysing benodig] Chili het tydens die nuwe 2014 CONSUR-beker, ’n nuwe kompetisie tussen Argentinië en die twee naasbeste spanne van Suid-Amerika, die houtlepel "gewen". Die volgende jaar kon Chili egter herstel en die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap vir die eerste keer wen, nadat hulle beide Brasilië en Paraguay verslaan het en Uruguay tuis 30–15 kon klop.
In 2016 het Chili aan die eerste Amerikaanse Rugbykampioenskap in sy huidige formaat deelgeneem. Chili kon ’n tuisoorwinning oor Brasilië aanteken, voordat hulle in ’n taai wedstryd teen Argentinië in die laaste 20 minuut agteruitgegaan het en met 52–15 verslaan is. Die VSA kon 64–0 met Chili in Fort Lauderdale afreken en in die volgende wedstryd is Chili net-net 20–23 deur Uruguay geklop. Chili het hul laaste wedstryd tuis teen Kanada met 64–13 verloor en sodoende laaste in die toernooi geëindig.
Tydens die Amerikaanse Rugbykampioenskap in 2017 is Chili in al vyf wedstryde verslaan en kon net vier drieë in die toernooi druk. In die 2017-Nasiesbeker kon Chili Kenia verslaan, maar is deur beide Rusland en Hongkong geklop.
Tydens die Rugbywêreldbeker 2019-kwalifisering kon Chili Paraguay 68–7 klop, maar hulle speel gelykop teen Brasilië (20–20) en is in die volgende wedstryd deur Uruguay verslaan (39–14). Vervolgens het Chili tot die tweede rondte gevorder, waar hulle Paraguay en Brasilië kon klop, maar weer deur Uruguay verslaan is. Hulle kon sodoende nie tot die toernooi in Japan vorder nie.
Rekords
Algehele rekord
Chili het teen 29 Desember 2019 82 van hulle 203 toetswedstryde gewen, ’n wenrekord van 40,39%.[7]
Chili se toetsrekord teen alle lande: (Korrek op 29 Desember 2019)[7]
Teen | Gespeel | Gewen | Verloor | Gelykop | % Gewen |
---|---|---|---|---|---|
![]() |
45 | 0 | 45 | 0 | 0 |
![]() |
4 | 0 | 4 | 0 | 0 |
![]() |
1 | 0 | 1 | 0 | 0 |
![]() |
1 | 1 | 0 | 0 | 100 |
![]() |
29 | 21 | 6 | 2 | 75,86 |
![]() |
1 | 1 | 0 | 0 | 100 |
![]() |
1 | 0 | 1 | 0 | 0 |
![]() |
1 | 0 | 1 | 0 | 0 |
![]() |
1 | 0 | 1 | 0 | 0 |
![]() |
2 | 1 | 1 | 0 | 50 |
![]() |
1 | 0 | 1 | 0 | 0 |
![]() |
6 | 0 | 6 | 0 | 0 |
![]() |
1 | 1 | 0 | 0 | 100 |
![]() |
2 | 1 | 1 | 0 | 50 |
![]() |
1 | 0 | 1 | 0 | 0 |
![]() |
29 | 28 | 1 | 0 | 96,55 |
![]() |
2 | 2 | 0 | 0 | 100 |
![]() |
4 | 0 | 4 | 0 | 0 |
![]() |
1 | 0 | 1 | 0 | 0 |
![]() |
1 | 0 | 1 | 0 | 0 |
![]() |
6 | 2 | 4 | 0 | 33,33 |
![]() |
1 | 0 | 1 | 0 | 0 |
![]() |
1 | 1 | 0 | 0 | 100 |
![]() |
55 | 13 | 41 | 1 | 24,54 |
![]() |
1 | 1 | 0 | 0 | 100 |
![]() |
6 | 1 | 5 | 0 | 16,67 |
Totaal | 203 | 82 | 118 | 3 | 40,39 |
Wêreldbekerrekord
Jaar | Uitslag |
---|---|
1987 | Nie genooi nie |
1991 | Nie gekwalifiseer nie |
1995 | Nie gekwalifiseer nie |
1999 | Nie gekwalifiseer nie |
2003 | Nie gekwalifiseer nie |
2007 | Nie gekwalifiseer nie |
2011 | Nie gekwalifiseer nie |
2015 | Nie gekwalifiseer nie |
2019 | Nie gekwalifiseer nie |
2023 | N.v.t. |
Verwysings
- ↑ (en) "Most matches". ESPNscrum. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Mei 2020. Besoek op 29 Desember 2019.
- ↑ (en) "Most points". ESPNscrum. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Mei 2020. Besoek op 29 Desember 2019.
- ↑ (en) "Most tries". ESPNscrum. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Mei 2020. Besoek op 29 Desember 2019.
- ↑ (en) "World Rugby Rankings". Wêreldrugby. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 April 2020. Besoek op 29 Desember 2019.
- ↑ (en) Bath, Richard (1997). The Complete Book of Rugby. Seven Oaks Ltd. p. 65. ISBN 1-86200-013-1.
- ↑ (en) Collins, Tony (1 September 2015). The Oval World: A Global History of Rugby (Eerste uitg.). Bloomsbury Publishing. ISBN 978-1-4088-4370-3. Besoek op 29 Desember 2019.
- ↑ 7,0 7,1 (en) "International Rugby Union Statistics – Chili". ESPNscrum. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Maart 2016. Besoek op 29 Desember 2019.
Eksterne skakels
Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Chileense nasionale rugbyspan.
- (es) Amptelike webwerf van die Federación de Rugby de Chile